GESKIEDENIS

Bietjie meer as nege jaar gelede het ons met ‘n selgroep begin, spesifiek vir mans, op Vrydae oggende om 05h00. Elke Bybelstudie is afgesluit deur te luister na ‘n Gospel Song om ons deur die week te dra – dit het almal op ‘n geestelike “high” gehad en God se teenwoordigheid net weer bevestig.

Jy word in daardie oomblik opgeruk hemel toe, terwyl jou voete steeds vas op die aarde is!

Ons is in hierdie wêreld, nie van hierdie wêreld nie! ‘n Behoefte het ontstaan vir ‘n geleentheid om God te verheerlik en Sy Naam groot te maak, op die maat van musiek.

Hoekom dan musiek vra jy? Musiek is ‘n universiêle medium wat mense saambring. Engele loof en Prys God op ’n daaglikse basis. Hoekom doen ons dit dan nie ook hier op aarde nie? Daarom kom ons as kinders van God saam, om Hom te loof en te prys.

Die aanvanklike plan was om eers net ‘n klein groepie mense hierby te betrek. Dit was egter nie bedoel om klein te bly nie, want nadat ek hierdie idee met mense begin deel het en met opgewondenheid hieroor gepraat het, het ek net weereens besef: hierdie is ‘n baie groter behoefte by baie meer mense as wat ek ooit sou kon droom.

Wanneer jou drome jou nie bang maak nie, droom jy nie groot genoeg nie.

Fast forward: God plant hierdie brandende begeerte in my hart dat ek ‘n Gospelfees op die planke moet bring, hier in Moorreesburg. Iets groots, buite in die natuur, daar waar ons naaste aan God voel…

Dit is dan nou hier waar die 1Hartklop Gospelfees ontstaan het – uit TOTALE OORGAWE en GEHOORSAAMHEID aan GOD.

Morne Bruwer